GOW

GOW © All Rights Reserved. Terms of Use | Privacy Policy

GOW Home. News. GOW Projects. GOW Outreaches. Gallery of GOW. GOW Teaching. Contact GOW. Feedback from GOW operations

(Julie 2011):

Wees  gegroet uit ‘n koel Antananarivo!

 

Ja, die winter is regtig op ons. Ek sien op die internet SA beleef ook baie lae temperature. Dit gaan goed met ons en ons is gesond. Ons dank die Here elke dag vir Sy goedheid. Hier inTana het ons die afgelope tyd groot feesvieringe beleef. Op 26 Junie was die eiland 51 jaar onafhanklik. Die huidige (onwettige) regering het reg oor die land groot feeste gereël waar mense verniet kon eet en het ook geskenkies uitgedeel. Alles was maar ‘n politieke foefie om punte te wen by die gemeenskap. Op die aand van 25 Junie om 19h00 het al die gemeenskappe optogte gehou en het elke persoon ‘n chinese lantern gedra. Nogal indrukwekkend om te sien. Die feeste het reeds een week voor  die 26 ste begin en het omtrent twee weke daarna aangehou. Alles is darem nou weer terug na normaal.

 

Op die politieke front is dinge maar nog dieselfde. Daar is steeds onderhandelinge en die politieke probleme hier is op die onlangse AU vergadering bespreek, maar dit lyk nie of daar enige vordering gemaak word nie. Intussen verarm die land en voedselpryse skiet die hoogte in. ‘n Eier kos deesdae tot R2.50. Ons het nou maar vir ons vier hoenders aangeskaf om die probleem te oorbrug. Elektrisiteits voorsiening is ook deesdae ‘n probleem. Ons gaan gebuk onder aanhoudende kragonderbrekings. Wanneer daar die slag krag is, is dit baie swak (‘n buislig skakel nie eers aan nie). Die elektroniese bedhorlosie verloor sowat 15 min. per nag, dit is nou te sê as die krag sterk genoeg is dat die syfers kan vertoon. Die selfoon neem ten minste 6 ure om te laai.

 

In Belo het ons spanne teruggekeer na hulle uitreik. Daar is verskeie oorgawes gemaak en ons is in beplanning vir opvolg besoeke. EE111 se uitreik wat ons gereël het, het gister klaargemaak. Daar is ook baie oorgawes gemaak en twee klinieke is aangebeid. Ons loof die Here vir al die sukses en bring Hom al die eer! Ons sal later meer besonderhede daaroor kry en dit dan deurgee. Die werk aan die Vonjy is steeds op die ys. Ons hoop om einde Augustus weer te kan voortgaan.

 

Intussen bid ons julle alle sterkte, seën en wysheid  toe in julle Godgewewe taak as ouers, gades en getuies. Tot volgende keer…

 

Vrede vir julle!!!!

 

Nic en Tina.

 

(Junie 2011):

 

Dagsê,

           Jammer dat ons so lank stil was, maar soos ek in my laaste briefie gesê het was ons nie naby e-pos fasiliteite nie. Ons is egter nou terug in Tana en dit is lekker om weer te kan gesels. Dit gaan goed met ons en ons ons dank die Here elke dag vir gesondheid en daaglikse brood.

 

Belo nuus: Die werk aan die boot is tydelik gestaak. Ons het net twee sweismasjiene in die omgewing. Die een het “uitgebrand” en die ander een is besig om ‘n “ferry” te bou wat teen einde Augustus/September klaar behoort te wees. Die werk aan die boot sal dan hervat word. Vir die wat nie per sms bereik kon word nie: Ons het nog ‘n nuwe gemeente begin wat sowat 50 lidmate sterk is. Dit is Soarono aan die weste kant van Belo. Die gemeente is baie ywerig en het reeds ‘n kerkgeboutjie opgerig wat sowat 80 mense kan huisves. (steengebou!) Daar is een van ons Nehemia studente wat tans die gemeente lei. Ons het ook 60 Bybels en ongeveer 5,000 traktaatjies versprei. Die behoefte aan Bybels bly egter groot en groei steeds.

 

Die slegte nuus is dat twee van ons pastore oorlede is. Pastor Woerie wat in Toby bedien het. Hy was reeds bejaard en Pastor Fulgence wat in Belo bedien het. Fulgence was net 45jr oud en is dood weens hartprobleme. Hy is vir ons ‘n groot verlies aangesien sending by hom ‘n prioriteit was. Met sy hulp het ons in die verlede reeds drie kerke geplant.

 

Bid asb. saam met ons dat die Here hierdie manne sal vervang met manne van die Woord wat sendingvisie het. Pastor Solo bedien tans in Toby en een van die ouderlinge bedien in Fulgence se gemeente. Bid dat die Here hierdie gemeentes sal dra in hierdie tyd en die manne wat waarneem sal seen met insig en wysheid. Daar is tans twee spanne  in die veld besig met evangelisasie. Bid dat die Here hulle sal lei en harte ontvanklik maak vir die evangelie.

 

Op die politieke front woel dit steeds. SADC het verlede week ‘n afvaardiging gestuur nadat hulle die vorige week in Botswana gesit het. Die aanbevelings is dat altwee die uitgesette presidente – Ravalomanana en Ratsirika toegelaat moet word om terug te keer en deel te neem aan die verkiesing waarvoor daar nog nie ‘n vaste datum is nie. Die huidige regering het dit verwerp en daar is steeds gesprekke tussen die regering en SADC. Intussen gaan die gesondheidsorg en onderwys daagliks agteruit en word hongersnood in die platteland ‘n werklikheid. Bid ook asb. saam met ons dat hierdie politieke krisis gou tot ‘n end sal kom.

 

 

Ons gesels gou weer met julle. Tot dan ……..

 

Vrede vir julle!!!!

 

Nic en Tina.